Lig in Duisternis Uitgewers is verheug om die publikasie van Vriende en bemindes aan te kondig, die Afrikaanse vertaling van Joel R. Beeke se gewilde werk, Friends and Lovers: Cultivating Companionship and Intimacy in Marriage.
In hierdie kort, maar kragtige boek fokus Beeke op twee onmisbare boustene van ’n lewenskragtige huwelik: vriendskap en intimiteit. Met Bybelse wysheid, veral uit die boek Spreuke, bied hy praktiese en Skrifgegronde riglyne om eggenote emosioneel en fisiek nader aan mekaar te bring. Die boek is nie ’n omvattende huwelikshandboek nie, maar eerder ’n eerlike, toeganklike gids wat lesers help om die huwelik te verstaan soos God dit oorspronklik bedoel het.
Volgens ds. Schalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, vul hierdie publikasie ’n belangrike leemte in die Afrikaanse Christelike boekemark. “Baie huwelike in ons gemeenskappe worstel juis met hierdie twee sake, naamlik vriendskap wat verlore geraak het, en intimiteit wat verwaarloos word. Beeke se boek bring nie net Bybelse insig nie, maar ook praktiese hoop. Ons is dankbaar dat ons hierdie waardevolle werk nou ook in Afrikaans aan ons lesers kan bied.”
Ds. Schalk Strauss het ook uitgewy oor die belangrikheid daarvan om sulke publikasies binne ’n Christelike raamwerk beskikbaar te stel. “As uitgewery wil ons voortdurend bronne aan gelowiges bied wat hulle toerus om hul geloof prakties uit te leef – ook binne die intimiteit van die huwelik. Vriende en bemindes doen presies dit.”
Vriende en bemindes is nou beskikbaar by Lig in Duisternis Uitgewers teen slegs R190.
