Mark Jones (Vertaal deur ds. Schalk Strauss)
Leer Jesus ken deur sy gebede.
Jesus se aardse bediening as mens was deur ’n toegewyde gebedslewe gekenmerk. Deur sy gebedslewe kry ons ’n kykie in wat dit beteken om waarlik van God afhanklik te wees. Deur die bestudering van Jesus se gebede in die Nuwe Testament, ontbloot hierdie boek die inhoud en struktuur van die Seun van God se woorde aan sy Vader.
Jones se bedoeling met die boek strek veel dieper as om net ’n paar beginsels vir gebed uit die gebede van Jesus af te lei. Hy begelei ons tot ’n beter begrip van wie Jesus is en wat Hy vir ons gedoen het en pas dit dan op die gebedslewe van die gelowige toe.
Die boek ondersoek die verskillende gebede van Jesus vanaf moederskoot to by sy laaste gebed aan die kruis. Hoofstuk 22 fokus byvoorbeeld op Jesus se gebed in Getsémané waar Hy in groot benoudheid gebid het.
“Toe kom hulle in ’n plek waarvan die naam Getsémané was. En Hy sê vir sy dissipels. Sit hier onderwyl Ek gaan bid. En Hy neem Petrus en Jakobus en Johannes saam met Hom en begin ontsteld en benoud te word. En Hy sê vir hulle: My siel is diep bedroef tot die dood toe; bly hier en waak.” Markus 14:32 – 34.
“… Jesus se worsteling in hierdie gedeelte om Homself aan die Vader se wil te onderwerp, sou ons Verlosser meer laat ly het en groter geestelike angs by Hom tot gevolg gehad het, as wat sy fisiese en brutale lyding op Gólgota ooit sou veroorsaak …”
“Daar word beweer dat gebed die waarheid oor onsself ontbloot. Insgelyks laat “Die gebede van Jesus” ons toe om Hom te sien vir wie Hy werklik is. Hierdie boek handel van begin tot einde oor Jesus. Gevolglik is hierdie ’n genotvolle boek vir die Christenleser ̶ ’n boek waarvan elke bladsy die leser uitnooi tot ’n meer intieme kennis van Christus. Lees dit gerus en wees geseënd,” het Megan Hill, Redakteur van The Gospel Coalition oor hierdie publikasie gesê.
Hierdie boek help ons om sy voorbeeld na te volg wanneer ons, as aangenome seuns en dogters, gemeenskap met ons hemelse Vader beoefen. Elke gelowige se gebedslewe sal deur hierdie boek verryk word.
Beskikbaar teen R150 by Lig in Duisternis Uitgewers.
boekwinkel@liginduisternis.co.za.
