Lig in Duisternis se nuutste publikasie, Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak, is op 25 November tydens ʼn aanlyn bekendstellingsgeleentheid bekendgestel.
Hierdie publikasie is die Afrikaanse vertaling van die bekroonde Timeless Principles for Raising Successful Children, geskryf deur Yavor Rusinov.
Die boek word deur verskeie leierskapfigure beskryf as ʼn lewenshandboek geskik vir ouers, onderwysers of enige persoon wat op ʼn daaglikse basis met die opvoeding van kinders te doen het.
Volgens ds. Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, word die beginsels handig verpak in vyf praktiese beginsels, wat ouers sal help om basiese lewensvaardighede aan hul kinders oor te dra. Hierdie beginsels is vryheid, rentmeesterskap, wet, oorsaak-gevolg-verband, en tyd.
“Die publikasie bied tydlose wysheid en praktiese raad, wat daarop gemik is om sterk, veerkragtige en verantwoordelike kinders groot te maak. Dit bied ʼn holistiese en geloofsgebaseerde benadering tot ouerskap. Dit help ouers om kinders se selfwaarde op ʼn gesonde manier te koester, kritiese denke te ontwikkel, en uitdagings met selfvertroue aan te pak,” verduidelik ds. Strauss.
Flip Buys, voorsitter van die Solidariteit Beweging, beskryf die publikasie as ʼn handleiding wat handel oor die ewige beginsels wat bepalend is vir ons kinders se lewens, eerder as ʼn ouerskapgids met goedkoop kitsresepte wat op die kort termyn gewild is, maar op die medium termyn vergete raak.
Hierdie boek is soveel meer as ʼn toevoeging tot ʼn boekversameling. Dit is ʼn belegging wat ʼn groot bydrae tot Afrikaanse gesinne en ouerskap sal lewer.Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak is nou beskikbaar op Lig in Duisternis Uitgewers se rakke, Kindle en Amazon se print on demand.
