Lig in Duisternis Uitgewers stel ’n unieke Afrikaanse vertaling van Augustinus se belydenisse bekend

Lig in Duisternis Uitgewers stel graag Die belydenisse van Augustinus, ’n Afrikaanse vertaling van die klassieke Latynse werk Confessiones bekend.

Die vertaling is die werk van professor Jan Scholtemeijer wat die teks met groot noukeurigheid en respek vir beide die oorspronklike Latyn en die Afrikaanse taal benader het. Die boek bevat ’n uitgebreide inleiding en verklarende aantekeninge wat die leser help om die historiese en teologiese agtergrond daarvan te verstaan.

Aurelius Augustinus, gebore in 354 n.C. in Noord-Afrika, word as een van die invloedrykste denkers in die geskiedenis van die Christelike kerk beskou. Confessiones, geskryf aan die einde van die vierde eeu, word wyd beskou as die eerste outobiografie in die Westerse literatuur. Daarin vertel hy sonder omhaal van woorde die verhaal van sy roekelose jeugjare, sy lang soektog na waarheid en sy uiteindelik bekering tot die Christelike geloof.

Ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, sê die verskyning van hierdie boek is ’n besondere mylpaal. “Augustinus se belydenisse is een van die groot werke van die Christelike literatuur en ons is verheug dat Afrikaanse lesers dit nou weer in hul eie taal kan lees. Hierdie is ’n boek wat oor eeue heen mense se lewens aangeraak het en ons glo dit sal Afrikaanse lesers ook stig.”

Die belydenisse van Augustinus is nou beskikbaar by Lig in Duisternis Uitgewers teen R350. Koop jou kopie aanlyn of by ons boekwinkel by Makoustraat 516, Pretoria.