Lig in Duisternis Uitgewers en AfriforumTV bring vanaf 28 Augustus ’n nuwe dokumentêre reeks, Vaste Fondamente, wat kykers deur die vroeë kerk in Klein-Asië (vandag Turkye) neem. Die reeks wat uit elf episodes bestaan, is beskikbaar by Lig in Duisternis Produksies en AfriForumTV.
Vaste Fondamente is nie ‘n reisjoernaal wat ou ruïnes en toeristebestemmings besoek nie, maar ’n geloofsreis wat die sigbare wêreld van Turkye met die wêreld van die Nuwe Testament verbind. Die reeks volg die spore van Johannes en Paulus deur stede soos Éfese, Smirna, Pérgamus en Sardis, en verduidelik hoe die boek Openbaring se sewe briewe in daardie konteks pas.
Oor die elf episodes heen is die fokus op figure soos die apostels Johannes en Paulus, die stad Éfese met sy beroemde biblioteek en tempel, en die sewe briewe wat in die boek Openbaring aan gemeentes in Klein-Asië gerig is. Die reeks sluit af met die groot kerkvergaderings van Nicéa, Konstantinopel, Éfese en Chalcedon, en die Hagia Sophia in Istanbul.
Die navorsing en skryfwerk vir die reeks is deur ds. Henning Dafel gedoen. Hannes Noëth tree as aanbieder en toerleier op.
’n Groep predikante en akademici tree op as kundiges en gesels regdeur die reeks oor Bybelse teologie, kerkgeskiedenis en die argeologie en kultuur van die antieke wêreld: Prof. Koos Adendorff, dr. Annette Botha, di. Henning Dafel, Jan-Louis Lee, Gustav Opperman, Johan Schütte, prof. Gerrit Smit, ds. Schalk Strauss, prof. Alwyn Swanepoel, ds. Maarten van Helden, drr. Malan van Rhyn en Halit Ucran. . Die kamerawerk in Turkye is deur Dawid van Graan behartig.
Oor die doel van die reeks sê ds. Schalk Strauss, deelnemer en Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers: “Ons moet hoër kyk, dieper delf, en meer sien, sodat ons in groter verwondering voor God kan staan.”
“Mense kom en gaan. Mensewerk kom en vergaan. Tog staan die getuienis wat hulle gelewer het, en so ook die Een van wie hulle getuig het, vas. God bou immers sy kerk op vaste fondamente,” aldus Hannes Noëth, aanbieder van die reeks.
Laai die inligtingstuk hier af.

