Nou ook op Kindle.
Dit is met groot trots dat Lig in Duisternis Uitgewers aankondig dat In die spore van Jesus, ’n vertaling van dr. Joel R Beeke se boek Walking as He Walked, nuut op ons rakke is. Dit is ook as e-boek op Kindle beskikbaar.
Walking As He Walked is ’n versameling van vier lesings (geïnspireer deur 1 Johannes 2:6) wat dr. Beeke gelewer het.
Ds. Henning Dafel, wat die boek vertaal het, sê dat dit in hierdie boek regtig voel asof jy en dr. Beeke met ’n koppie koffie in die hand groot, moeilike en seer vrae deurworstel.
“Ek was maar nog altyd lief vir boeke en teoloë het altyd baie boeke,” sê hy. “In 2019 het ek die voorreg gehad om onder dr. Beeke te studeer. Daar het ek sy besonderse gawe beleef om groot waarhede aan die sondaar se siel toe te dien.”
Dr. Beeke is ’n ywerige skrywer en spreker en gevolglik het ds. Dafel hom op dié manier beter leer ken.
Joel Robert Beeke (gebore op 9 Desember 1952 in Kalamazoo, Michigan) is ’n Amerikaanse gereformeerde leraar en teoloog. Hy het aan die Western Michigan University, Thomas Edison College, die Nederduitse Gereformeerde Teologiese Skool en Westminster Theological Seminary studeer.
In sy boek skryf dr. Beeke diep, maar nie moeilik nie; hy praat reguit, maar nie neerhalend nie. Die gevolg is dat jy groot gedagtes oor God op ’n baie persoonlike manier leer verstaan – veral op die vier onderwerpe wat aangespreek word: Jesus se kruis en myne, Jesus se amp en myne, Jesus se trane en myne, Jesus se volharding en myne.
Dié boek, wat meer in die trant van ’n preek as ’n akademiese verhandeling geskryf is, is maklik om te lees en dit maak vinnig ’n impak. Dit is geestelik opbouend en inspirerend!
“Ek beveel hierdie boek ten sterkste aan vir enigeen wat begeer om die Here Jesus Christus na te volg en Hom in alle opsigte te weerspieël,” sê ds. Dafel. “Dit is ’n belangrike en waardevolle boodskap wat ons moet waardeer en ’n voorbeeld wat ons almal moet probeer navolg. Mag elkeen wat dit lees net soveel seën soos ek daaruit put.”
