Ons daag jou uit! Verdubbel Windhoek-gemeente se skenking 

Lig in Duisternis Uitgewers het met groot dankbaarheid ’n skenking van R5 000 van die AP Kerk Windhoek ontvang. Hierdie ruim bydrae is die resultaat van ’n inspirerende fondsinsamelingsaksie van die verbondsjeug van die gemeente.

Soos ’n Gideonsbende het die 15 dooplidmate saamgestaan om met ’n muntlegging ’n bydrae te lewer tot die belangrike werk wat Lig in Duisternis Uitgewers doen. Die res van die gemeente is toe uitgedaag om vir elke munt wat neergesit word, die ekwivalent by te voeg. Hulle het nie op hulle laat wag nie en hul gewig in harde kontant by die kinders se inisiatief ingegooi, wat gelei het tot ’n bedrag van meer as R5 000.

“Ons is opreg dankbaar vir die jeug van die gemeente van Windhoek vir hul toewyding en lojaliteit. Hierdie skenking is ’n waardevolle belegging in die werk wat ons doen, en ons glo dat dit groot vrug sal dra,” sê ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers. 

In die gees van samewerking en ondersteuning stel die gemeente van Windhoek en Lig in Duisternis Uitgewers nou ’n uitdaging: Ons nooi ander gemeentes uit om hierdie skenking te verdubbel deur enige vorm van fondsinsameling te onderneem. Dit hoef nie noodwendig ’n muntlegging te wees nie. Dink groot en help ons so om óns missie groots te maak!

Baie dankie aan die gemeente van Windhoek en spesifiek aan die verbondsjeug wat hierdie pragtige aksie van stapel gestuur het. Ons sien opgewonde uit na ander gemeentes se inisiatiewe!

Vir meer inligting oor hierdie inisiatief, kontak Lig in Duisternis Uitgewers gerus by navrae@liginduisternis.co.za

Volg Lig in Duisternis Uitgewers hier op Facebook.

Lees ook: Boekbekendstelling: Die Katte van Kathu sit hul dorp oppi mêp