Ons Lig Luisterstories bring generasies bymekaar

24 November 2021 | Mediaverklarings | 0 comments

“Ons Lig Luisterstories” is ’n innoverende luisterstorie-projek in samewerking met Ons Tuis aftreeoorde wat op 24 November geloods word. Dié twee organisasies het hande gevat om iets uniek in Afrikaans te bied vir kinders wat in ’n tegnologiese era grootword. Ons Lig Luisterstories het ten doel om kinders te prikkel om meer te lees en ook om bewustheid te skep rondom die belangrike rol wat ’n ouma of oupa in ’n kind se lewe speel.

Vier publikasies uit Lig in Duisternis Uitgewers se stal is deur verskeie inwoners van Ons Tuis aftreeoorde voorgelees en opgeneem. Hierdie titels sluit in: Die Wit Rokkie, Bekkie begeer alweer, Honkidôrie Hus en Millie se ontdekking. Die boekies, soos alle publikasies van Lig in Duisternis, is almal op ’n Christelike grondslag gebaseer en maak die evangelie vir kleiner kinders meer toeganklik.

Die voorlesings word met ’n kreatiewe en interaktiewe voorstelling van die boek gekombineer en as ’n videoskakel beskikbaar gestel. Hierdie videos kan op beide Ons Tuis en Lig in Duisternis se webtuistes afgelaai word en dan ook versprei word. Die boeke wat voorgelees word in hierdie eerste reeks van Ons Lig Luisterstories is ook by die aanlyn boekwinkel te koop.

Ds. Schalk Strauss, publikashiehoof van Lig In Duisternis Uitgewers, is baie opgewonde oor die eerste reeks van die Ons Lig Luisterstories: “Die projek word juis in November geloods, omdat dit die bewusmakingsmaand is vir ouer persone se behoeftes. 21 November was ook Wêreld Kinderdag en omdat daar tientalle kinders is wat nie meer geseënd is om ’n ouma of ’n oupa te hê nie, sien ons hierdie projek as ’n manier om weer die belangrikheid van ouer persone in ’n kind se lewe aan te wakker en ’n potensiële liefde vir bejaardesorg te kweek.”

Hoe laai ek my gratis Ons Lig Luisterstories af?

1.            Laai die boekrak op Lig in Duisternis Uitgewers se webtuiste: www.liginduisternis.co.za af op u slimfoon of rekenaar.

2.           Kliek op enige van die vier stories wat aangebied word en luister saam.

3.           Deel gerus die skakel met jou vriende en familie.

4.            Bestel vir jou kinders of kleinkinders die gedrukte weergawe van hierdie boeke op Lig in Duisternis Uitgewers se webtuiste, sodat hul lekker saam kan blaai of lees.

“As jy gewonder het hoe jy die jongspan hierdie vakansie gaan besig hou, sal Ons Lig Luisterstories vir seker ’n paar ledige ure vul en dit is boonop ’n wonderlike Kersgeskenk,” sluit Strauss af.

Deel graag met jou vriende

Waar’s Appelkie die muis?

Appelkie