Lig in Duisternis Uitgewers stel nuwe handboek vir Afrikaansonderrig bekend

Lig in Duisternis Uitgewers kondig graag die bekendstelling aan van Dinamiese Afrikaans: Riglyne vir Afrikaansonderrig in die Intermediêre Fase onder redaksie van Elmarie Lubbe en Arthur Hall.

Die handboek is ontwikkel om onderwysstudente, dosente en praktiserende onderwysers toe te rus met die vakkennis en metodiek wat hulle benodig om Afrikaans doelgerig in die Intermediêre Fase te onderrig. 

Volgens ds. Schalk Strauss, Publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, verg Afrikaansonderrig meer as net die kennis van taalreëls. “Onderwysers moet taalonderrig kan beplan en assesseer, taalvaardighede met mekaar verbind, taalkundige kennis in die klaskamer toepas en tekste doelgerig gebruik.”

Dinamiese Afrikaans behandel taalkunde, taalonderrig, letterkunde, assessering en pedagogiek as verwante kennisgebiede. Die inhoud berus op tersaaklike navorsing en beproefde onderrigpraktyke, terwyl praktiese voorbeelde, onderrigstrategieë en assesseringsriglyne wys hoe die teorie in die klaskamer toegepas kan word. Onderwerpe wat aan die orde kom, sluit in: luister, praat, lees en kyk; skryf en aanbied; spelling en grammatika; letterkunde en assessering; en die verantwoordelike gebruik van kunsmatige intelligensie (KI) in die Afrikaansklas.

Die handboek benader Afrikaansonderrig vanuit ’n Christelike lewens- en wêreldbeskouing – ’n invalshoek wat dit onderskei binne die huidige mark van vakhandboeke.

Hierdie publikasie is deur ’n ruim finansiële bydrae van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns moontlik gemaak.

Die handboek is beskikbaar teen slegs R585.