Hoe kan gelowige ouers hul kinders help … om My te ken, dat Ek die Here is (Jer. 24:7)?
Deur die oë van Appelkie die muis, in die voetspore van Moses se vertelling, wys ds. Jannie Bisschoff kinders wie God is, wat Hy doen en wat Hy van mense verwag. Dit is belangrik om raak te sien hoe die goue draad van God se genade deur die Bybelse geskiedenis ononderbroke tot in ons lewens loop. Gepas val ds. Jannie met die deur in die huis daar waar Appelkie in Génesis se pragtige tuin aan ‘n yslike mieliepit sit en knibbel. Waar kom dit alles vandaan? Wie het hierdie mooi boom, waaronder ek sit, gemaak? Wie het vir my hierdie lekker mieliepit, waaraan ek nou smul, gegee? Aan die hand van Appelkie se vrae kan ouers hul kinders reeds kleintyd leer dat daar Iemand gans anders as mens én muis is: Hy is God en Hy het alles gemaak.
Saam met Appelkie maak kinders kennis met Satan (die slang) en leer van sonde en God se verlossingsplan met die gevalle mens. Soos ‘n wafferse teoloog help Appelkie kinders om die bergpieke in die heilsgeskiedenis op pad na die vervulling in Christus, met mekaar te verbind. Wanneer God vir die slang sê: “Een van Eva se kinders sal jou kop in die grond trap”, dink Appelkie opgewonde … ek kan nie wag vir daardie dag nie …
Saam met Appelkie sien hulle verder hoe sonde voortsnel en alles wat goed is, verderwe: Appelkie wil nog skree: Oppas! maar hy is te laat. Kain slaan vir Abel dat hy morsdood neerval. Maar kinders sien ook hoe die Here altyd weer genadig is: “Noag, jy moet ‘n groot skip bou …” Appelkie skrik hom boeglam. Kan dit waar wees? Sal hy en sy gesinnetjie darem deel uitmaak van die paar diere wat gered word?
Ds. Jannie en Appelkie roep vir eers halt – ná baie geslagte van Appelkies en kennismakings met Bybelkarakters soos Abram, Isak, Jakob – daar waar Josef vir sy broers sê: “Kom bly hier in Egipte dat ek vir julle kan sorg.” Op daardie oomblik verstaan Appelkie waarom die Here al hierdie verskillende dinge laat gebeur het … hoe wonderlik God alles in plek laat val het …
Die avonture van ApPelKie die muis is ‘n getuienis dat die Here op verskillende maniere sy kerk opbou en in stand hou. Hierdie publikasie is die geseënde resultaat van klankopnames wat gedurende die COVID-19-grendeltyd aan AP kerke beskikbaar gestel is.
Die skrif en uitleg van die publikasie is so gekies dat dit tienjariges en jonger se oog vang.
Charlotte Möller
