Jaarlikse prysuitdelingsfunksie: Lig in Duisternis Uitgewers gee erkenning aan skrywers se uitmuntende bydraes

Lig in Duisternis Uitgewers, ’n toonaangewende Christelike uitgewery met ’n gereformeerde grondslag wat fokus op Bybelgetroue en behoudende Afrikaanse literatuur, het Maandag 24 Julie sy jaarlikse prysuitdelingsfunksie in Pretoria aangebied. Die doel van hierdie geleentheid is om erkenning te gee aan skrywers van regoor die land (vanjaar ook uit Namibië), wat uitmuntende bydraes in verskeie kategorieë gelewer het.

Die beoordelaarspaneel was weereens baie beïndruk met die uitsonderlike kwaliteit van publikasies in elke kategorie. Die wenners is Maandagoggend om 10:30 tydens die prysuitdelingfunksie by die AP Kerk Pretoria-Oos aangekondig.

Benewens die erkenning van wenners in elk van die vier kategorieë, asook ‘n algehele wenner, is spesiale vermeldings toegeken aan ander uitstaande skrywers wat opmerklike talent en toewyding getoon het.

Alle publikasies wat deur Lig in Duisternis Uitgewers in 2022 vrygestel is, het vir oorweging in aanmerking gekom.

KATEGORIE: ARTIKEL IN DIE BOODSKAPPER

Spesiale vermeldings:

DESEMBER 2021/JANUARIE 2022-UITGAWE

“Geloftedag: Is die viering daarvan ’n struikelblok vir ware vrede (versoening) in Suid-Afrika?” – dr. Petrus Venter

Met die verandering van Geloftedag na “Versoeningsdag” in die Nuwe Suid-Afrika, word verwag dat daar oor die tema van “versoening” gepraat word wanneer die gebeure van 16 Desember 1838 herdenk word. Ongelukkig word hierdie soort versoening meestal in ’n polities-korrekte horisontale versoening geklee en van ware versoening tussen God en mens, kom min tereg. Die skrywer van hierdie artikel wys op ’n aangrypende wyse watter besondere betekenis Geloftedag in die geskiedenis van die Afrikanervolk ingeneem het en hoe selfs die Zoeloe-toeskouers met die viering van Geloftedag in 1866 gehelp het om klippe nader te rol vir die oprig van ’n gedenkteken. Deur hierdie artikel wys die skrywer hoe die Voortrekkers deur die viering van die Gelofte van Bloedrivier nie ’n haatdraende houding jeens die volke in Suid-Afrika ingeneem het nie, maar juis die geleentheid benut het as ’n sendinggeleentheid wat die boodskap van ware vrede en geregtigheid in Christus alleen wou tuisbring. Vir die besondere insiggewende oorsig oor die geskiedenis asook die unieke aksent wat op die viering van Geloftedag as sendinggeleentheid geplaas word, word hierdie artikel eervol vermeld.

FEBRUARIE 2022-UITGAWE

“Bybelse geregtigheid versus valse geregtigheid” – dr. Chris Saayman

Die gelowige word in die Skrif voortdurend opgeroep om onreg te beveg en baie kerke fokus deesdae sterk op hierdie tema. Op die oog af klink dit goed, want reg en geregtigheid is tog immers kenmerke van God se koninkryk en as burgers van sy koninkryk word ons geroep om reg en geregtigheid te handhaaf en te beskerm. In die gemelde artikel wys die skrywer egter dat daar dikwels met ’n voorafopgestelde definisie van onreg gewerk word wat nie uit die Skrif en gereformeerde belydenis voortkom nie, maar uit die gedagtegoed van die kulturele Marxisme oftewel sosiale geregtigheidsideologie. Hierdie definisie verskil hemelsbreed van die Skrif se definisie van geregtigheid. Bybelse geregtigheid is gewortel in God se karakter. Dit straf kwaaddoeners en herstel slagoffers van onreg. Geregtigheid moet geskied ten opsigte van behoeftiges, armes, onskuldiges, vreemdelinge, weduwees, weeskinders en alle mense moet met dieselfde respek behandel word. Ware geregtigheid kan dus slegs geskied wanneer met Bybelse geregtigheid rekening gehou word. Aangesien hierdie ’n aktuele tema in die konteks van Suid-Afrika is, en aangesien die tema van geregtigheid dikwels juis gebruik word vanuit sosiale geregtigheidsteologie, bied die artikel ’n vars blik op ’n eeue-oue vraagstuk: Wat is reg voor God? Om hierdie rede word die artikel “Bybelse geregtigheid versus valse geregtigheid” eervol vermeld.

APRIL 2022-UITGAWE

“Om ’n verbond te sny” – dr. Erik van Alten

Die woord wat in die Ou Testament gebruik word vir die “sluiting” van ’n verbond, word ook vanuit Hebreeus vertaal met “die sny van ’n verbond”. Dit word onder andere in O Palmer Robertson se lesenswaardige monografie oor die verbond, The Christ of the Covenants, breedvoerig bespreek. In hierdie artikel fokus die skrywer op die betekenis van die “sny” van die verbond en wat hierdie ritueel gesimboliseer het: Deur die opsny van die diere en die deurgaan tussen die stukke vleis, het die partye in die verbond hulleself op ’n baie grafiese wyse tot die verbondsverhouding verbind – met daarby die uiters bloedige herinnering dat die een wat die verhouding verbreek, se liggaam sal in stukke geskeur word net soos die diere seremonieel opgesny is. So is die verbond (die verbintenis in bloed) bevestig. Die skrywer gaan voort om te wys hoe die “sny van die verbond” sy uiteindelike vervulling in die versoeningsdood van Christus vind en dat Goeie Vrydag inderdaad die fees van die “opgesnyde Lam” is. Vir die interessante agtergrond tot die Ou Testamentiese ritueel van verbondsluiting, asook die feit dat die skrywer op besondere wyse uitwys hoe vervulling van die verbond in Christus verstaan moet word, word die artikel eervol vermeld.

APRIL 2022-UITGAWE

“Herontdek Van Riebeeck se skatkis” – Flip Buys

Die drie-en-dertigjarige Jan van Riebeeck staan op 6 April 1652 op die strand en kyk hoe die matrose die paar stukkies gereedskap, landboubenodigdhede en die karige persoonlike besittings van die negentig aankomelinge aflaai. Hy sug hardop. Hoe verwag die VOC moet hy met net twee-en-tagtig mans en agt vroue ’n verversingspos oprig om die grootste handelsvloot ter wêreld van voorrade te voorsien? Maar hy het ’n skatkis saam met hom gebring wat die geheime bestanddele bevat wat nodig is om ’n moderne beskawing in donker Afrika te begin. Die skatkis bevat twee sakkies saad met ’n vergeelde briefie langsaan. Hierdie sakkies saad staan simbolies vir die Westerse suksesresep, naamlik beter politieke, ekonomiese, wetenskaplike, militêre, tegnologiese en burgerlike instellings as ander beskawings. Dit maak nie van die Westerse beskawing ’n meerderwaardige beskawing nie, maar die sukses van die Weste spruit uit die “menslike sagteware” wat kultuurgoedere put uit die antieke beskawings wat goedheid en skoonheid waardeer het. Die skrywer wys hoe die vryheidstrewe van die Afrikanervolk tradisioneel gewortel is in die Protestantse waardestelsel nadat die Reformasie in slegs vyf dekades die destydse wêreld omgekeer en onherroeplik verander het. Die artikel bring ’n boodskap van hoop in ’n tyd waar baie van ons mense moedeloos geword het en wys op besondere wyse hoe die Protestantse werksetiek in die DNS van die Afrikaner ingewortel is en dat ons met net twee sakkies saad ’n nuwe begin kan maak.

JUNIE 2022-UITGAWE

“My kind oorweeg selfmoord, hoe gemaak?” – dr. Helena Erasmus

Die verskriklike werklikheid van selfmoord word deesdae dikwels eufemisties met “selfdood” beskryf. Dit verander egter nie die waarheid van hierdie gedagte dat ’n ouer vrees sy kind oorweeg selfmoord nie. Die moeilike vraag is egter of die ouer die kind daaroor moet konfronteer, wat dalk die teenoorgestelde uitwerking mag hê. Hoe gemaak wanneer ouers vermoed dat ‘n kind selfmoord oorweeg? In hierdie artikel wys die skrywer op die belangrike rol wat geestesgesondheid in ons en ons kinders se lewens speel en word wenke gegee hoe om ons kinders se geestesgesondheid te ontwikkel en te versterk. Die skrywer wys in besonder daarop dat geloof ’n belangrike rol in geestesgesondheid en die bewerking van vrede in die gemoed van ons en ons kinders speel Vir die praktiese riglyne en hulp wat hierdie artikel bied aan ouers wat met die vrees van selfmoord moet leef en antwoorde soek, word eervolle vermelding gegee aan die artikel: “My kind oorweeg selfmoord, hoe gemaak?”

JULIE/AUGUSTUS 2022-UITGAWE

“Die kroon en die kerk: Wie het die vuur by die lont gebring?” – Charlotte Möller

Gód beskik konings en koninginne en Hy gebruik hulle in sy verlossingsplan vir sy kerk. In hierdie artikel neem die skrywer die leser terug na die geskiedenis van die Engelse Reformasie in die tyd van Wycliffe aan die een kant, teenoor die politieke reformasie van die Tudor-koning, Henry VIII, aan die ander kant. Henry VIII was ’n Rooms-Katolieke koning wat ten spyte van sentimente met reformatore soos Cranmer en Cromwell, in sy hart altyd die knie voor Rome sou buig. Die reformasievuurtjie het dus maar flou gebrand in Engeland in dié tyd. En toe word sy seun, Edward VI, ná sy pa se dood die koning oor Engeland en onder koning Edward word die Engelse kerk gereformeer tot ’n volledige Protestantse kerk. Die konflik tussen die Protestante en die Rooms-Katolieke, wat beskryf kan word as ’n “vuur” en ‘n “lont” word op besondere wyse in hierdie artikel aan die orde gestel. Daar was die afgelope dekades talle films en televisiereekse wat die geskiedenis van die Tudor-huis in Engeland romantiseer en veral die rol van koningin Elizabeth I in die reformasie van Engeland erken. Ongelukkig word die fokus dikwels op die tekortkominge en foute van Elizabeth geplaas en nie die hervormingsywer wat sy gekoester het nie. Die skrywer slaag daarin om die leser op ‘n interressante reis deur die Engelse geskiedenis te neem, en kom uiteindelik tot die slotsom: Dit is maklik om ná 464 jaar terug te kyk en nét die foute wat Elizabeth I in haar godsdienstige hervormings gemaak het, raak te sien. Tog kan ons haar aanprys dat sy, ten spyte van moeilike grootwordjare en ’n pa wat geen Christelike voorbeeld was nie, die een was wat die vuur by die lont vir die verwerkliking van die Engelse Reformasie gebring het. Vir die artikel word eervolle vermelding aanbeveel.

Motivering vir kategoriewenners:

OKTOBER 2022-UITGAWE

“Die dag toe Dordt ’n storm in Afrika veroorsaak het: Die doop van kinders wat uit slawe gebore is” –ds. Johan Schütte,  in samewerking met Charlotte Möller

Die sakrament van die doop is een van die kerklike aangeleenthede wat die meeste verskille onder gelowiges veroorsaak. ‘n Mens kan bloot dink aan die verskille tussen die grootdoop, kleindoop, wederdopers en talle ander aksente wat tot die ontstaan van verskillende kerklike denominasies gelei en eindelose teologiese debatte teweeggebring het. In die artikel in Die Boodskapper (Oktober 2022) getiteld: “Die dag toe Dordt ’n storm in Afrika veroorsaak het: Die doop van kinders wat uit slawe gebore is”, bring ds. Schütte ‘n interessante vraagstuk in ons nasie se verlede in die kollig en wys hoe aktueel die vraagstuk van die doop in die geskiedenis van die kerk was en is. Die vraag oor die doop van slawekinders gee vir die AP Kerk in die een-en-twintigste eeu ‘n kykie in die manier hoe ons gereformeerde voorouers aan die hand van die Sinode van Dordt met kerklike aangeleenthede gehandel het. Dit wys ook daarop dat inmenging van die staat in kerklike sake nie ‘n nuwe verskynsel is nie en iets waarteen voortdurend gewaak moet word. Die vraag oor die doop van slawekinders wys voorts vir ons ‘n werkswyse in die hantering van sulke aangeleenthede in die geskiedenis, wat rigting kan gee in die hantering van byvoorbeeld die bediening van die doop aan pleegkinders, buite-egtelike kinders en soortgelyke kwessies waarvoor die kerk vandag te staan kom. Die verwysing na Martin Bucer se hantering van hierdie vraagstuk was in besonder insiggewend. Om gemelde redes word die artikel van ds. Schutte aanbeveel as wenner van hierdie kategorie van die Lig In Duisternis-prys vir 2022.

KATEGORIE: DAGSTUKKIES

Motiverings vir spesiale vermeldings:

Dagstukkies vir Augustusmaand 2022 – Tema: “Rentmeesterskap” (ds. Jan Brink)

As motivering noem ek graag dat die skrywer die onderwerp waaroor die maand se dagstukkies handel (“Rentmeesterskap”) uitstekend en volledig hanteer het. Hy het elke moontlike aspek van die onderwerp gedek en deurgaans duidelik en op die man af geskryf sodat dit vir elke leser verstaanbaar is. Sy taalgebruik is gemaklik en tog nie ligsinnig of oppervlakkig nie. Wat wel diepsinnig is, is sy hantering van die Skrif. Hy verklaar die teksverse suiwer en pas dit kort en kragtig prakties toe op die lewe van ’n Christen. Hy slaag daarin om elke onderwerp suiwer Christologies deur te trek terwyl die Drie-eenheid ook betrek word. Die gebede aan die einde van elke dagstukkie verwoord ook dit wat in die leser se hart leef nadat hy of sy die dagstukkie gelees het.

Motivering vir kategoriewenner:

Dagstukkies vir Maartmaand 2022 – Tema: “Verhoudings” – ds. Aubrey Hough

“Niks op aarde is so intiem soos gebed nie.” Met hierdie woorde word die dagstukkies van Maart 2022 deur ds. Aubrey Hough saamgevat waarin gebed as sleutel tot gesonde verhoudings gestel word. Deur die loop neem ds. Hough die leser met 31 dagstukkies op ’n intieme reis en gee ’n kykie op die verskillende verhoudings waarbinne ons staan. Ons verhouding met God, met ons naaste, met die natuur, die kultuur, ons gesinne, families, werksplekke en die kerk word op besondere aktuele wyse in die lig van die Woord aan die orde gestel. Daar is ook ongesonde verhoudinge waarop ons bedag moet wees, soos individualisme en sosialisme. Uiteindelik staan ons selfs in verhouding met aardse lyding en uiteindelik met die dood en hoe ons oor die dood dink, bewys of ons waarlik vir Christus lewe. Die skrywer wys die leser daarop dat die gelowige geroep is om in ‘n goeie verhouding met alles en almal rondom hom te leef, maar dat dit natuurlik nie altyd maklik is om reg te kry nie. Die Here gee egter vir ons ’n wonderlike resep vir goeie verhoudinge: … in nederigheid moet die een die ander hoër ag as homself (Filip. 2:3). Die Maart-dagstukkies van ds. Aubrey Hough in Onder sy heerskappy verdien die 2022 Lig in Duisternis-prys vir verdienstelike werk gelewer.

Motivering vir kategoriewenners van die volgende kategorieë:

KATEGORIE: JEUGPUBLIKASIE

Die avonture van ApPelKie die muis – ds. Jannie Bisschoff

Hoe kan ek my jonger kind in my eie taal én in sy/haar kindertaal oor die groot dade van God vertel? Ds. Jannie kom Christenouers Skrifgetrou in hierdie verband tot hulp. Voor die eerste omblaaislag gryp die kleurvolle voorblad reeds die oog. Watter kind sal dit kan weerstaan, én daarby nog ‘n agtergrondkaraktertjie soos Appelkie die muis! Dan begin ds. Jannie sy Skrifgetroue vertelling ook op die regte plek – daar waar God in die begin alles gemaak het. Hier plant hy alreeds die saadjie, dat die Bybel die een verhaal van die enige God is wat by die gebeure in Génesis begin. Waar die Ou Testament vandag by baie as oud en uitgedien gesien word, stel ds. Jannie dié dwaling sommer al kleintyd reg. Hoe geseënd is ‘n kerkverband om publikasies soos hierdie, uit eie boesem, aan verbondskinders beskikbaar te kan stel! Lig in Duistenis Uitgewers is trots om ‘n publikasie wat van die groot dade van God ook in kindertaal vertel, op sy rakke te kan hê.

KATEGORIE: TEOLOGIESE WERK

Openbaring – Die boek van die voleinding –  prof. Koos Adendorff

Menige lidmaat het al by die dominee gekla oor die “onverstaanbaarheid” van die boek Openbaring. Om die verwarring oor die verstaan van die boek te begryp, moet ons in ag neem dat daar deur die jare heen talle publikasies oor die wederkoms en oor die boek Openbaring verskyn het, dikwels met uiteenlopende verklarings oor die metafore en beelde in die boek, met die gevolg dat lidmate dikwels gewoon nie weet watter siening hulle moet aanvaar nie. In hierdie publikasie oor Openbaring word die nuutste navorsing oor die teologie van Openbaring teen die agtergrond van die eeue-oue historiese verklaringsmoontlikhede afgeskets en op verstaanbare en verteerbare wyse vir die lidmaat voorberei. Hierdeur lewer prof. Koos Adendorff ‘n besondere bydrae om die boek Openbaring vir die leser in ‘n  een-en-twintigste eeuse konteks oop te sluit.

‘n Baie belangrike aspek waarop vroeg reeds klem gelê word, is dat die boek Openbaring nie van sy oorspronklike omstandighede losgemaak kan word nie. Johannes skryf aan ‘n spesifieke groep mense met spesifieke omstandighede op ‘n spesifieke tyd. Die boodskap is egter universeel en bring veral troos vir mense in moeilike tye. Die skrywer spreek talle wanvoorstellings oor die verstaan van die boek Openbaring aan en gee telkens riglyne hoe die gereformeerde kerklidmaat die perikoop moet verstaan met inagneming van die komplekse en uitgebreide navorsingsgeskiedenis van die boek. Reeds in die inleiding word die vertrekpunt van die publikasie vir die leser duidelik gemaak, naamlik dat gewerk word vanuit ‘n openbaringshistoriese, oftewel heilshistoriese, perspektief. Hierin lewer prof. Adendorff ‘n unieke bydrae tot die verstaan van die boek Openbaring aangesien talle publikasies oor Openbaring, die boek slegs in sy onmiddellike konteks, of dálk nog in die Nuwe Testamentiese konteks, verklaar. In hierdie publikasie wys die outeur hoe die Ou Testamentiese voorseggings oor die koms en die heerskappy van Christus deur die Heilige Gees in die boek Openbaring ingeweef is, sodat die leser van die boek Openbaring moet besef dat daar ‘n direkte verband tussen die skepping in Génesis en die herskepping deur Christus is. Die skrywer slaag op ‘n besondere wyse daarin om die boek Openbaring vir die moderne leser in Afrikaans oop te sluit binne die konteks van die heilsgeskiedenis, sodat elkeen wat die boek gelees het, nie sal kan kla dat Openbaring ‘n “onverstaanbare” boek is nie. Die werk word aanbeveel vir elkeen wat ernstig is om die boek Openbaring binne die groot raadsplan van God te verstaan. Die boek sal vir leraar en lidmaat van groot waarde wees

Algehele wenner van die 2022 Lig in Duisternis-prys

Deur die oë van ‘n man – Pieta Oosthuizen

‘n Boek is sy skrywer. Die skrywer van Deur die oë van ‘n man is ‘n Afrikaner van Christeninbors wat lief is vir die natuur en jag én getrou is aan sy opdrag om verantwoordelike onderheerser van God se skepping te wees. ‘n Leser voel iets van hierdie liefde vir die natuur wanneer Pieta onder andere skryf oor die alleenloper-rooibokram: “Ek was dankbaar dat hy nie uit die trop gestoot is nie. Hy het vryheid bo die trop se gevangeskap verkies …” Hierdie pragboek roer die snare van vervloë jagoomblikke. Lesers sal beslis ‘n verlangepluk aan die hartsnare voel – na vlaktewild op die eens ver verlate vlaktes van ons dierbare land. Die gemaklike, dog keurige Afrikaans maak bykomend van hierdie publikasie ‘n diamant in enige uitgewer se kluis. Lig in Duisternis Uitgewers is trots om die werk van ‘n inborslidmaat van ‘n AP Kerk ver en wyd te kan beskikbaarstel.

Lig in Duisternis Uitgewers wil al die skrywers graag gelukwens met hul bydraes. Ons is trots op elke publikasie en ons sien daarna uit om voort te bou op hierdie tradisie van kwaliteit en kreatiwiteit.