Lig in Duisternis Uitgewers (LIDU), ’n toonaangewende Christelike Afrikaanse uitgewery met ’n gereformeerde grondslag, het vandag die bekendstelling van sy Borg ‘n Boek-veldtog aangekondig. Besighede, organisasies en maatskappye word uitgenooi om finansieel by te dra tot die daarstelling van nuwe Afrikaanse Christelike publikasies.
Afrikaanse en Christelike literatuur staan onder toenemende druk. Die koste van publikasie styg, die mark is klein en talle waardevolle stemme is stil, nie omdat die boodskap ontbreek nie, maar omdat die middele ontbreek. LIDU se Borg ’n Boek-veldtog is ’n direkte antwoord op hierdie uitdaging.
Borgskap by LIDU is meer as ’n finansiële transaksie. Wanneer ’n organisasie ’n boek borg, word hy ’n deelnemer aan iets blywends. ’n Boek bereik gesinne aan etenstafels, predikante in studeerkamers, jongmense op soek na hul wortels en bejaardes op soek na troos. Dit vorm die denke van leiers. Dit gaan van hand tot hand, van geslag tot geslag.
Vir organisasies wat in die Afrikaanse gemeenskap wortelskiet of daarin handeldryf, bied die vennootskap iets wat advertensies selde kan: geloofwaardigheid. Die gemeenskap sien wie LIDU se hande sterk, en onthou dit.
As borgvennoot ontvang ’n organisasie die volgende voordele:
- Naam en handelsmerk prominent in die gepubliseerde boek
- Handelsmerk word op www.liginduisternis.co.za vertoon
- Toegewyde ruimte in LIDU se nuusbrief
- Erkenning tydens die publikasie se bemarkingsveldtog
- ’n Toegewyde advertensie op LIDU se sosialemediakanale
Borgopsies is beskikbaar teen R10 000, R30 000, R50 000 en R100 000.
“LIDU het reeds bewys dat kwalitatiewe, Bybelgetroue Afrikaanse publikasies ’n mark het en ’n verskil maak. Ons nooi organisasies uit om deel van dié verhaal te wees, nie as skenkers nie, maar as vennote met ’n naam op die bladsy en ’n erfenis in die gemeenskap. Sommige beleggings lewer wins. Hierdie belegging lewer betekenis,” aldus ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers.
Besoek die veldtogwebbladsy vir meer inligting.
