deur ds. Willem van Schalkwyk
Die mistieke wêreld van engele het nog altyd ‘n betowerende invloed op mense. Dit is ‘n wêreld wat ons nie met ons oë kan waarneem nie, maar wat ons siel diep aangryp en boei. In Lig in Duisternis Uitgewers se nuutste publikasie spreek ds. Willem van Schalkwyk vrae en misverstande oor hierdie onderwerp op ‘n Bybelse manier aan.
Hierdie Bybelstudie is ‘n Skrifgebonde benadering om die waarheid oor engele te ontdek. Dit is ‘n benadering wat die Bybel as die primêre bron van kennis en leiding gebruik, en nie op mense se persoonlike ervarings met engele staatmaak nie. Die doel is om ‘n nadenkende en nugtere insig op die onderwerp te bied.
“Een van die kernboodskappe van hierdie Bybelstudie is om die fokus van gelowiges reg te stel,” sê ds. Van Schalkwyk. “Dit herinner ons daaraan dat engele eintlik diensknegte van God is. Ons moet ons nie net oor hulle verwonder nie, maar eerder oor die lewende God wat hulle geskape het.” Ds. Van Schalkwyk meld dat daar in hierdie Skrifstudie ‘n oproep op lesers gedoen word om hul siening oor die bestaan en optrede van engele te verander. “Ons oppervlakkige betowering met engele moet ‘n dieper besef van God se grootheid en almag meebring.”
‘n Tematiese Bybelstudie soos hierdie het ‘n belangrike doel en dit is nie net om mense meer kennis aangaande die Bybel se lering oor engele te gee nie. Die uiteindelike doel is om die groot, almagtige God te verheerlik.
As jy dieper in die waarheid aangaande engele gelei wil word en op soek is na ‘n waardevolle hulpbron oor engele en die God wat hulle geskape het, moet jy vir jou ‘n kopie van Engele: Diensknegte van die lewende God aanskaf. Dit is beskikbaar by Lig in Duisternis Uitgewers teen R110 of as elektroniese boek by Amazon.
