Jy gaan beslis nie ʼn kat in die sak koop as jy hiérdie bordspeletjie aanskaf nie! Idiomepret is ʼn bordspeletjie wat onlangs by Lig in Duisternis Uitgewers die lig gesien het en vir ure se pret en plesier vir die hele familie sal sorg. Podiumpret, as die brein agter hierdie speletjie, het met 144 bevestigde spreekwoorde en idiome bewys dat Afrikaans, hetsy as moedertaal of addisionele taal, inderdaad nog leef én geniet kan word!
“Die speletjie bestaan uit ses afdelings,” verduidelik ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers. “Die reëls is eenvoudig genoeg vir oud en jonk om te verstaan.”
Die ses afdelings waaruit Idiomepret bestaan, is soos volg:
- Gee die betekenis van die idioom
- Gee die idioom
- Pasmaats
- Voltooi die idioom
- Gebruik die idioom in ’n sin
- Stomstreke/teken
“Die speletjie het ten doel om soveel moontlik idiome te onthou en uiteindelik as deel van jou woordeskat te gebruik. Idiomepret kan óf gespeel word deur twee tot vier spelers waar iemand die vrae vra en die persoon/span wat eerste die 30-blokkie op die bord bereik dan wen, óf deur twee tot vier spanne waar die span met die meeste punte wen. Jy kan ook ʼn kans waag as jy ʼn moeiliker vraag wil beantwoord en dan met die swaaitou opgaan,” laat ds. Strauss die aap so ʼn bietjie uit die mou.
“Afrikaansonderwysers kan hierdie speletjie, wat min of meer 10 minute neem, baie handig in die klas aanwend en kan dit selfs vir opstelonderwerpe nader trek. Die moeilikheidsgraad kan aangepas word deur sekere kaarte in te sluit of weg te laat. Speel-speel brei leerlinge hulle woordeskat uit en sal jy kort voor lank op die stoepe hoor hoe Juffrou vir wolf skaapwagter gemaak het, of hoe Jannie met die rooi hare Meneer lekker in ʼn wip gevang het!”
Idiomepret word deur dr. Willem Botha, hoofredakteur en uitvoerende direkteur van die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT), aanbeveel en verwys daarna as “ʼn nuwe bries in die gebruik en aanleer van Afrikaans”.
Solidariteit se Skoleondersteuningsentrum (SOS) het ook die speletjie geëvalueer en dit nege uit tien gegee.
Koop waardevolle tyd, lekkerte en lag saam met jou familie en vriende deur jou Idiomepret op Lig in Duisternis Uitgewers se webwerf teen slegs R360,00 aan te skaf.
