Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak

Ewige beginsels
R240

Praktiese beginsels wat ouers bemagtig om entrepreneuriese kinders groot te maak en hulle Bybels te begrond. Deur Yavor Rusinov.

In stock (can be backordered)

Ewige beginsels o...

Loading...

SKU: EWI02
Deel:
  • Beskrywing
  • Resensies (2)
  • Amazon E-boek

Beskrywing

“Hierdie boek is ’n lokval! Ek moet jou waarsku voordat jy nog die boek oopmaak. Ek begin nie net met hierdie waarskuwing omdat dit waar is nie, maar ook omdat die gemiddelde leser die gewoonte het om die inleiding oor te slaan en dadelik met die eerste hoofstuk te begin (tot onlangs ook my gewoonte). In ekonomiese terme het ek kompetisie, daarom moet ek terugval op die gebruik van ’n literêre tegniek waarvoor iemand soos George Orwell baie lief was – ’n eerste reël wat skok – om jou aandag vir ’n paar sekondes te kry om oor ’n paar van my wyshede na te dink. Dit is ’n lokval vir ouers wat dink hierdie boek is ’n handige, maar oor die algemeen eenvoudige en oppervlakkige so-maak-jy-handleiding om kinders groot te maak. Om die waarheid te sê gaan jy in hierdie boek van Yavor Rusinov soveel meer kry – ’n verhaal oor die fundamentele Bybelse beginsels vir die lewe wat nie vir ’n oomblik hoef terug te staan vir dié van Jordan Peterson nie. Dit bied ’n holistiese sosio-politieke wêreldbeskouing gewortel in die voortreflikste tradisies van die klassieke liberalisme en Amerikaanse konserwatisme, kunstig verweef met verhale uit die regte lewe, akademiese navorsing en opmerkings oor dit wat in die kulturele werklikheid waargeneem word. Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak is ’n lokval omdat dit jou dwing om ernstige vrae oor jou eie standpunte en optrede te vra. Dit gaan jou in ’n soortgelyke situasie as Neo van die fliek The Matrix plaas, waar jy gedwing gaan word om tussen gerieflike onkunde (die blou pil) en ongemaklike waarheid (die rooi pil) te kies. Yavor gaan jou uitdaag met betrekking tot temas soos waagmoed en persoonlike verantwoordelikheid, risiko’s en werksetiek, die rol van die regering en belasting. Hierdie publikasie deurklief selfs die intellektuele seepborrels van burokratiese sosialisme, moderne feminisme, verbruikersmentaliteit en die mite van ’n gratis middagete. Wees dus versigtig, liewe leser, want ek weet nie hoe jy dit gaan regkry om dit met ’n geruste hart te verduur dat jou kinders selfs net vir ’n enkele dag aan die opvoedingstelsel van die staat blootgestel word nadat jy hierdie boek gelees het nie. Daar is sekere kennis wat, as jy dit eers het, nie deur dié met ’n gesonde verstand en ’n sterk gees geïgnoreer kan word nie. Dit is hierdie soort kennis wat tussen die bladsye van hierdie boek vir jou wag. Ek eindig met ’n belydenis. Toe ek die eerste weergawe van die boek gelees het, het ek ingestem om hierdie inleiding te skryf omdat Yavor se boek vir my persoonlik ’n belangrike taak sou verrig. As iemand na my toe kom, moedeloos sug en vra hoe ons die wêreld kan red, kan ek die boek aan hom gee en doodeenvoudig antwoord: ‘Hierdie boek is ’n goeie begin.’” Stoyan Panchev, stigter en voorsitter van die Bulgaarse Libertynse Gemeenskap

2 reviews for Ewige beginsels om suksesvolle kinders groot te maak

5,0 Rating
1-2 of 2 reviews
  1. In ‘n tyd waarin ouerskap vol uitdagings is en moderne kultuur ons dikwels wegneem van die kernwaardes van gesin en verhouding, bied Yavor Rusinov se “Ewige Beginsels om Suksesvolle Kinders Groot te Maak” ‘n broodnodige herbesinning oor wat dit regtig beteken om kinders te lei na sukses. Hierdie boek het vir my, as ‘n ma van vier kinders, nie net ryk insig gebied nie, maar my ook laat nadink oor hoe ek my rol as ouer beter kan vervul in ‘n wêreld wat dikwels afbrekend is tot die gesinseenheid. Soos baie ouers het ek gewonder of ek my kinders goed toerus vir die toekoms en wat die regte pad na sukses is.

    Wat Rusinov se werk so treffend maak, is sy beklemtoning van beginsels wat nie tyd- of kultuurgebonde is nie, maar wat vir elke geslag relevant bly. Hy baseer sy benadering op ‘n Christelike wêreldbeskouing, en baie van sy idees en beginsels resoneer met die gesinswaardes wat ons soms kan verwaarloos te midde van die hedendaagse gejaagdheid. Die boek herinner ons daaraan dat ons kinders se sukses nie net bepaal word deur akademiese prestasies of materiële sukses nie, maar deur hul karakter, hul vermoë om met verantwoordelikheid en onafhanklikheid te leef, en die wil om vryheid binne morele grense te verstaan.
    As ouer het ek altyd gevoel dat ek sukses vir my kinders kan koop of skep deur te fokus op materiële voorspoed, maar hierdie boek het my anders laat dink. Rusinov wys daarop dat ons eerder moet fokus op die vorming van karakter. Hierdie karakter word gebou deur beginsels soos vryheid, rentmeesterskap en verantwoordelikheid. Wat vir my opmerklik is, is sy beklemtoning dat vryheid nie net beteken om vry te wees van beperkinge nie, maar dat ware vryheid gepaard gaan met verantwoordelikheid en selfdissipline. Hierdie beginsel het my herinner aan hoe belangrik dit is om ons kinders te leer om verantwoordelikheid vir hul dade en keuses te aanvaar. Dit is iets wat ek self probeer toepas in my huis – om my kinders die ruimte te gee om besluite te neem, maar hulle ook te lei om die gevolge van daardie besluite te verstaan.
    In die boek verduidelik Rusinov die vyf ewige beginsels wat volgens hom die basis vorm vir die opvoeding van kinders wat hulself suksesvol kan handhaaf in ‘n onsekere wêreld. Hy beklemtoon veral die rol van selfbeheer en selfdissipline – iets wat ek as ma dikwels sien as ‘n uitdaging om te ontwikkel in ons kinders, veral te midde van die oorvloed van onmiddellike bevrediging wat die samelewing hulle bied. Hy gebruik die storie van Josef in die Bybel as ‘n voorbeeld van iemand wat, ten spyte van moeilike omstandighede, rentmeesterskap oor sy talente geneem het en uiteindelik groot sukses behaal het. Hierdie verhaal het ‘n groot impak op my gehad, aangesien dit wys dat sukses nie noodwendig uit ideale omstandighede kom nie, maar eerder uit die manier waarop ons gebruik maak van wat ons het.
    ‘n Ander tema wat my diep geraak het, is die idee dat kinders moet leer om hul eie roeping en doel in die lewe te ontdek. Rusinov stel dit duidelik dat dit ons taak as ouers is om ons kinders te help om hierdie doel te vind en te verstaan dat elke uitdaging in die lewe ‘n geleentheid is om sterker en wyser te word. Hierdie beginsel het direk verband gehou met my eie ervaring, veral ná die geboorte van my vierde kind toe ek bewus geword het van hoe belangrik dit is om die dinge wat werklik saak maak – soos karakter en gesin – voorop te stel.
    Ten slotte, “Ewige Beginsels om Suksesvolle Kinders Groot te Maak” is nie net ‘n boek oor ouerskap nie; dit is ‘n lewenshandboek vir ouers en kinders. Dit leer ons dat ware sukses nie in die korttermyn-lopietog van prestasie en besittings lê nie, maar in die diepgewortelde beginsels van karakterbou en verantwoordelikheid. Ek sal hierdie boek aanbeveel aan enige ouer wat ernstig is oor die rol wat hulle speel in hul kinders se lewe, en wat hul kinders wil toerus met tydlose wysheid en innerlike krag vir die uitdagings wat voorlê.

    Charlotte Fourie

  2. Baie mense is bekommerd oor “vandag se kinders.” Kinders word egter deur vandag se ouers grootgemaak. Daarom lê die waarde van hierdie boek veral daarin dat dit ouers toerus om “vandag” se kinders nie net vir more groot te maak nie, maar op te voed, en so gereed te maak vir die toekoms. Dit is nie ‘n boek met goedkoop kitsresepte wat op die korttermyn gewild is maar op die medium termyn vergete raak nie. Die boek handel oor die ewige beginsels wat bepalend is vir ons kinders se lewens.

    Hierdie beginsels word handig verpak in vyf praktiese beginsels, wat ouers sal help om grondliggende lewensvaardighede aan hul kinders oor te dra. Hierdie beginsels is vryheid, rentmeesterskap, wet, oorsaak-gevolg-verband, en tyd. Dit is belangrik om te verstaan dat ons nie ons kinders kan help om presies vir dit toekoms te beplan nie, omdat dit te onseker is. Die waarde van hierdie beginsels is eerder dat dit ons kinders kan help om vir meer as een soort ‘toekoms” voor te berei, en gereed vir die noodwendige onsekerhede en dinamiese veranderlikes te wees. Dit help kinders om globaal te dink en lokaal te doen, en andersom- om lokaal te dink en globaal te doen. Die boek put ook uit die lesse van die verlede praktiese raad vir die toekoms, nie omdat die geskiedenis homself herhaal nie, maar omdat die menslike natuur homself steeds herhaal. Die boek fokus ook nie net om alles wat verander nie, maar op die ewige waarhede wat dieselfde bly, en wys dat dit beter is om te fokus op dit wat ewig is, as op dit wat deurlopend verander. Dis immers baie meer effektief om te beplan vir sekerhede as om te probeer beplan vir al die onbekendes wat verander!

    Flip Buys

Plaas 'n resensie.
Jy moet ingeteken wees om 'n resensie te plaas. Teken aan

Amazon E-boek

Amazon skakel: https://www.amazon.com/dp/B0DN1TRWXB