- Beskrywing
- Resensies (1)
Beskrywing
Daar is al baie boeke oor Génesis geskryf. In die lig daarvan kan ’n mens tereg vra: Hoekom nóg ’n boek? Ek wil graag twee redes aanvoer. Die eerste is dat daar nie soveel in Afrikaans geskryf is nie en dit bied dus die geleentheid om nuwe navorsing oor Génesis vanuit behoudende kringe aan ’n Afrikaanse gehoor bekend te stel. Tweedens benader hierdie publikasie die boek Génesis vanuit ’n hoek wat nie altyd soveel aandag geniet nie, naamlik ’n Bybels‑teologiese hoek. Wat is ’n Bybels-teologiese hoek? Bybelse Teologie is die teologiese dissipline wat die ontvouende geskiedenis van God se Selfopenbaring soos dit in die Bybel opgeteken is, bestudeer. Hierdie geskiedenis neem ’n aanvang met die skepping, vind sy hoogtepunt in die koms en werk van Christus en eindig met die handelinge en skrywes van die apostels onder leiding van die Heilige Gees, in afwagting van die wederkoms van Christus en die volle ontplooiing van die nuwe skepping. Kyk gerus na die boekbekendstelling-video: “Génesis – Die boek van oorspronge” – Prof. JAE Adendorff https://youtu.be/5iocUIAkihU



















Hierdie Bybels-teologiese inleiding tot die Bybel kan baie goed vir daaglikse Bybelstudie gebruik word aangesien hanteerbare perikope behandel word al is die boek nie volgens hoofstukke nie, maar volgens die sogenaamde toledot-struktuur* van Génesis ingedeel.
Goeie verduidelikings word gegee. Die aanbieding en taalgebruik is nooit hoogdrawend, neerbuigend of slegs verhaalmatig nie.
Baie voetnote asook die volledige bronnelys, getuig van deeglike en omvattende navorsing, maar die voetnote hinder nooit.
Die studie bevat talle sinvolle heen- en terugverwysings na die res van die Skrif, dus word Skrif met Skrif verklaar. Die boek is ook volledig Christosentries sodat die leser werklik verstaan in watter mate Génesis inderdaad die boek van oorspronge is.
Wat ’n aangename manier om die boek Genesis deur te werk – en ons dink ons “ken” Génesis!
*toledot: ontstaansgeskiedenis of stamboom.
Micky Badenhorst
13 Desember 2019
Naskrif:
Op 27 Januarie 2020 ontvang prof Adendorff die Lig in Duisternis-prys vir Génesis – die boek van oorspronge. Welverdiend!