- Beskrywing
- Resensies (1)
- Amazon E-boek
Beskrywing
Die boek Ester is ’n uitnodiging tot geloof – die geloof dat God se hand nie altyd gesien word nie, maar altyd aan die werk is. Hierdie versluiering maak die boek besonders relevant vir ons eie tyd waarin die kerk van Christus soms in die skadu van sekularisme en vrees leef. Dit roep die leser om weer te leer om nie op die sogenaamde toeval te vertrou nie, maar op die beskikking van God.
Gebore vir ’n tyd soos hierdie bring verskeie teologiese aksente vanuit ’n eie invalshoek saam, maar almal gewortel in ’n gemeenskaplike oortuiging dat die boek Ester méér is as ’n verhaal van oorlewing van die Joodse volk in die Persiese Ryk. Dit is ’n getuienis van God se voorsienigheid wat sy volk bewaar, van die stryd tussen lig en duisternis wat deur die eeue bly voortwoed, en van die sekerheid dat die ware Koning regeer, selfs wanneer Hy stil is.
1 review for Gebore vir ‘n tyd soos hierdie
Amazon E-boek
Amazon skakel: https://www.amazon.com/dp/B0GNMPCHQQ



















Ester is ʼn gewilde antwoord in vasvrakompetisies; die vraag natuurlik in watter Bybelboek die naam van God glad nie voorkom nie. Die basiese verhaal is relatief bekend en het al in verskeie gedaantes op die silwerdoek en kleinskerm verskyn. Die waarde van die boek, destyds, maar veral ook in die hede, is egter ‘n heel ander saak.
Die boek maak nie deel uit van die Qumrangeskrifte nie en is, aldus Martin Luther, nie waardig om in die kanon opgeneem te gewees het nie. Tog is daar verskeie stemme wat die oortuigings huldig dat die verhaal veel meer is as die oorlewering van die Joodse volk in die Persiese Ryk; dat God se beskikking inderdaad in die teks weerklink, al ontbreek sy naam, dat dit deel uitmaak van die verlossingsgeskiedenis en vooruitwys na die Messias, en dat relevant is in die hedendaagse tyd van politieke onrus, geestelike verskuiwings, en morele onsekerheid.
Hierdie boek is ‘n geskiedskrywing en ‘n diepgaande teologiese ondersoek deur verskeie kenners wat die byeenbring van ‘n kaleidoskoop van perspektiewe verseker. Die teikenmerk is beide teologiese vakkundiges en geïnteresseerde gelowiges, wat derhalwe eksegetiese detail sowel as toeganklik impliseer. Die voorwoord, deur Gerrit Smit, verwoord dit as volg: “Boeke word soms gebore uit ‘n behoefte aan nuwe kennis, maar party word gebore uit ‘n herontdekking van ou waarhede.” (7)
Agtergrond tot die boek Ester, geskryf deur Ruan Combrink, open met ‘n herbekendstelling van die hoofkarakters, Ahasvéros, Vasti, Mórdegai, Hadássa, en Haman. Die literêre genre, historisiteit, narratief, ontstaanstyd, doel, kerntemas, en die standpunt dat die inhoud ‘n allegorie daarstel, word ondersoek.
Wimpi Burger bespreek die Joodse interpretasie van die boek met verwysing na Greenstein en Levenson en ‘n uiteensetting van tradisionele Joodse interpretasiemetodes, en sluit af met die samevatting dat die Joodse verwagtinge rondom die liturgiese konteks van die Purim gevorm word en dat dit as feesgeskrif, deurweef met vreugde en komedie, gelees word. Aansluitend daarby volg ‘n ontleding van die Purimfees deur Barend Hefer.
Die bestaan van uiteenlopende weergawes, naamlik die Masoretiese en Septuagint LXX word erken en Smit (supra) ondersoek die verskille aan die hand van die tekstuele en literêre waardes, asook die teologiese en kerkhistoriese implikasies binne die breër konteks van, onder andere, kanonvorming en teologiese implikasies, en gaan dan voort om ook die apokaliptiek van die boek te bespreek.
Kommentaar op die boek Ester, deur Gerrit Smit, is die langste enkele insetsel en is as hoofstuk 6 geplaas. Die posisionering daarvan kan moontlik bevraagteken word. Vir die leke-leser sou ‘n volledige bespreking – soos wat hierdie hoofstyk inderdaad is – van meer nut gewees het vroeër in die gids, en selfs vir teologie-kenners sou sodanige plasing as ‘n handige geheueverfrissing kon dien.
Koos Adendorff argumenteer oortuigend in die daaropvolgende hoofstuk dat die boek tereg deel van die kanon uitmaak met die heilshistoriese lyne as basis. Die daaropvolgende hoofstukke, onderskeidelik deur Johan Bosman en Alwyn Swanepoel, is direk aansluitend by mekaar. Bosman motiveer, aan die hand van onderwerpe soos die übermensch, manlikheid, staatsbesteding, volksmoord en geslagspolitiek waarom die boek steeds relevant in die teenswoordige is, terwyl Swanepoel die destydse etiese riglyne, wat vandag as ‘n verleentheid gesien kan word, ontleed, maar van meet as af aan beklemtoon dat die verbondshermeneutiek wat gebruik word, met basiese voorveronderstellings werk wat ter wille van deursigtigheid uiteengesit en verklaar word. Dis sleutelwoord van die ontleding is stryd, en dit word bespreek onder die hoofde van verskeie keuses, naamlik grondliggend en eties, polities, persoonlik, en ooreenkomstig stylaard.
Henning Dafel se bydrae is ‘n gereformeerde analise van Ester vir vandag en open met ‘n bespreking van toepassings in die verlede voordat daar oorgegaan word na die kontemporêre. Die standpunte van Luther en Calvyn word aangeraak, asook die kanoniese aanvaarding, en latere gereformeerde interpretasies. Hedendaagse toepassings begin met die algemene, maar verskuif dan na ‘n spesifiek Suid-Afrikaanse konteks, met temas soos die verhouding tussen die kerk en die staat, magsmisbruik, sosiale, ekonomiese en politieke uitdagings, hoogmoed en gierigheid.
Hoofstuk 11 bied perspektiewe op die hantering van die boek in die Rooms-Katolieke, Ortodokse en Protestante tradisies en sluit beide godsdiensgeskiedenis en politieke diskoerse in. Die belang van die onderskeid tussen die weergawes word weer aangeroer in hierdie konteks (Hoofstuk 4, supra), Luther se standpunte word uitgebrei (Hoofstuk 10, supra) en die gevolgtrekking word gemaak: “Op hierdie maniere word die boek dus deur sekulêre verklaarders op verskeie vlakke van die kulturele en politieke diskoers, selfs deur teenstrydige partye, toegeëien om regverdiging vir hul standpunte te bied.” (eie beklemtoning – 225)
‘n Preekvoorbeeld, met eksegetiese (literêre konteks en tekstuur, karakterisering, temas, teologie, taalgebruik, en simboliek) en homiletiese (preekdoel, sentrale boodskap, spanning, beweging, Christosentriese verband, hedendaagse toepassing, struktuur, tegniek, toon en atmosfeer) opmerkings deur Schalk Strauss is as slothoofstuk ingesluit.
Die slotwoord behoort aan die eindredakteur, Gerrit Smit: “As ‘n mens jou die Bybel indink as ‘n woning vol vertrekke, dan is die boek Ester die een vertrek waar God se Naam nie geskryf staan nie, maar waar sy hand in elke ornament duidelik sigbaar is. Wie Ester lees, hoor die sagte, doelbewuste geruis van God se voorsienigheid.” (240)
Anschen Conradie