Lig in Duisternis Uitgewers is opgewonde om hierdie jaar deel van Solidariteit Helpende Hand se Skooltassie-projek te wees.
Solidariteit Helpende Hand se nasionale Skooltassie-projek plaas sedert 2007 ’n skooltassie met die nodige skryfbehoeftes in, in behoeftige graadeentjies se hande. So verseker die organisasie ʼn gelyke wegspringkans vir al ons kinders.
Helpende Hand plaas elke jaar duursame skryfbehoeftes in hierdie skooltassies en Lig in Duisternis het hiertoe bygedra deur ook duursame inhoud beskikbaar te stel.
Lig in Duisternis Uitgewers het hierdie jaar ’n wonderlike leesboekie, Die Wit Rokkie, vir elke tassie wat gepak word, beskikbaar gestel. Hierdie boekie, geskryf deur Annamarie du Toit, slaag baie goed daarin om die evangelieboodskap op ’n subtiele wyse aan kinders bekend te stel.
“’n Kind kry nie net hierdie boekie in ’n tassie nie. Hierdie boekie gaan ook terug na die kinders se huise, wat beteken dat die boodskap van die evangelie in hierdie huise gehoor word,” het Hannes Noёth, Helpende Hand se uitvoerende direkteur, gesê.
Ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers, is baie opgewonde oor die uitgewery se deelname aan die Skooltassie-projek: “Daar is soveel kinders in ons gemeenskappe wat broodgebrek ly, maar wat hulle selfs meer nodig het, is die Brood van die lewe. Toe Christus self in die woestyn honger gehad het, het Hy ons herinner: Die mens sal nie van brood alleen lewe nie, maar van elke woord wat deur die mond van God uitgaan.”
Lede van die publiek kan ook ’n bydrae lewer om tassies te borg of te skenk. SMS die woord “tassie” na 45763, teen ‘n koste van R2. Die Helpende Hand span sal jou dan kontak en meer inligting verskaf. Om ’n tassie te skenk kos R400. Op Lig in Duisternis se webtuiste (www.liginduisternis.co.za) is daar ook die opsie om met elke aankoop, ’n R10-donasie aan Helpende Hand te maak.
