Die eerste boek in Die Buiter-verhaalreeks is pas deur Lig in Duisternis Uitgewers vrygestel. Hierdie reeks beskryf die opwindende avonture van die Buiter, ’n man wat ’n merkwaardige dubbele lewe gelei het. Hy word as die rykste edelman aan die Kaap gereken: die oënskynlik ledige en verveelde graaf De Moreaux.
“Die mooi Rossouw-susters maak deel uit van die intrige en sorg vir ʼn tikkie romanse. Dan is daar die graaf se volgelinge – Jacques, Pierre, Phillip en André – wat die Buiter se ware identiteit ken, maar hom nooit sal verraai nie. Hulle ken hom as ’n onverskrokke waaghals met ’n onuitblusbare sin vir regverdigheid,” verklap ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers.
Die publiek sien die Buiter as ’n hoflike, adellike en kleurryke ruiter, maar skurke vrees hom. “Dit is in die nag, uit die skaduwees op sy swart hings, wat die Buiter sy opwagting maak,” vertel ds. Strauss. “Dan is hy in swart drag geklee, gemaskerd en gewapen met vlymskerp swaarde en twee pistole – reg vir enige gevaar.”
Die Buiter en sy bende vleg snags geluidloos teen die hange van Leeuwberg tussen bosse en struike deur. Wanneer daar onreg gepleeg word, is hulle eerste op die toneel en met die Buiter se waaghalsige metodes van vergelding, sal geen booswig kan ontsnap nie.
“Hierdie moderne Robin Hood beroof die ydele hoëlui en deel dan aan die armes uit. Hy herstel ook onregte wat teenoor minderbevoorregtes gepleeg is. Wanneer jy die boek lees, hóór jy sommer hoe die swaarde klap en die perde se hoewe dreun!” verwoord ds. Strauss die emosie wat Die Buiter by die leser opwek. “In jou geestesoog sien jy nie net die wreedheid van skurke met hul pofmoue en fluweelkniebroeke nie, maar beleef jy ook hoe aristokrate oënskynlik as galante en nederige here van die Kaap voorkom, maar eintlik doen net wat hulle wil. Die Buiter sien deur hierdie valsheid en skrik gelukkig nie vir soldate, slotte en klipmure nie!”
Luister gerus hier na ‘n lusmakertjie van Die Buiter.
Besoek gerus Lig in Duisternis Uitgewers se webwerf om jou kopie van Die Buiter te koop. Die e-boek is ook op Amazon beskikbaar.
