Hoe lyk daardie dinge waarmee ons onsself as kinders besig gehou het vandag deur die oë van ’n man? Blink jou oë steeds as jy aan daardie buffelhorings en die jagtog in die Zambezi-vallei dink? Klop jou hart steeds in jou keel wanneer jy die vars spore in die voetpad gewaar? Hierdie vrae word in Deur die oë van ʼn man gevra – ʼn splinternuwe publikasie met jagverhale wat onlangs deur Lig in Duisternis Uitgewers uitgegee is.
“Met hierdie boek kry Pieta Oosthuizen dit reg om die leser die liefde vir jag en die natuur opnuut te laat geniet en waardeer. As skoolhoof, Afrikaans- en geskiedenisonderwyser bring Pieta hulde aan die onderwysberoep in die algemeen en in besonder aan Afrikaansonderwysers wat hard werk om ʼn liefde vir ons moedertaal te bevorder,” vertel ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers.
Deur die oë van ʼn man fokus op die omswerwinge en belewenisse van ʼn doodgewone biltongjagter wie se herinneringe en dankbaarheid altyd in sy jagtershart sal bly voortleef. Die skrywer het jare ná sy pa se dood op drie jagverhale in een van sy lessenaarlaaie afgekom. Hierdie verhale asook sy twee susters se jagervarings vorm deel van die boek.
“Hierdie bundel inspireer jou om die natuur te waardeer, maar plaas ook groot klem op die belangrikheid van verantwoordelike optrede in die jagveld,” sê Rentia Mynhardt, skakelbeampte vir Lig in Duisternis Uitgewers. “Al die stories is egter nie ernstig nie. Wanneer ʼn jagter homself in woeste en beboste terrein bevind, is luukshede soos spoeltoilette en dubbellaagtoiletpapier jou nie beskore nie. Die humor wat in verhale soos Die grootwildjagter uit die stad gebruik word, laat jou sommer hardop lag! Jy kan nie anders as om daardie ‘veltie’ wat hy moes vang in jou geestesoog te sien nie! Nie sy hoed met die nagemaakte luiperdvel, Ray-Ban-sonbril, patroonband vol koperdoppe om sy middellyf, óf die fieterjasies aan sy kamoefleerdrag kon met dáárdie oefening help nie!”
Deur die oë van ʼn man vertel ook van die takbok, oftewel krismisbok of John Deere-bok; beslis nie ʼn karkas om sommer vir biltong en droëwors op te sny nie! Die beskrywings wat gebruik word, laat jou soms met ʼn tikkie nostalgie; knoppiesdoring, kruisbessie, rosyntjiebos, matoppies en witgatbome.
“Wanneer jy lees van die sterkbos, wildevy en kremetart, wil-wil jy Randall Wicomb se wysie begin neurie: En daar is ghwarrie-bos en wildepruim, noem-noem en granaat. Tussen soetdoring en karee kry ‘n koedoebul sy maat…” beskryf Mynhardt die gevoel wat hierdie jagbundel by jou wakker maak.
Die koedoebul – koninklik, manjifiek en misterieus – speel inderdaad ook ʼn groot rol in enige jagter se lewe. Die vertellings wek onvermydelik ʼn soort heilige respek vir die natuur by jou op, saam met die bewustheid dat ʼn Groter Hand ook in die bos in beheer is.
Johan van Wyk, redakteur van SA Jagter/Hunter, loof in die voorwoord die erns waarmee Pieta Oosthuizen sy opvoedingstaak benader en noem dat die pligsbesef teenoor sy kinders, veral met betrekking tot vuurwapenveiligheid, opmerklik is. Hy noem ook dat dit ʼn plesier vir enige redakteur is om sulke materiaal op sy skryftafel te kry!
Skaf gerus jou kopie van Deur die oë van ʼn man aan op Lig in Duisternis Uitgewers se webwerf of op Amazon as jy ʼn e-boek verkies.
Kyk ook gerus hier na die bespreking van die boek tydens die boekbekendstelling.
