Nuwe boeke beskikbaar by Lig in Duisternis Uitgewers

Die drukkery is die afgelope tyd sommer baie besig terwyl die reuk van ʼn hele paar nuwe boeke kort-kort deur die lug trek! Lig in Duisternis Uitgewers het ook tans ʼn hele klompie spesiale Kersaanbiedinge wat jou Kersinkopies baie makliker sal maak.

“Ons het werklik iets vir elke ouderdom en smaak,” laat hoor ds. Schalk Strauss, publikasiehoof van Lig in Duisternis Uitgewers. “Die volgende twee boeke in die Buiter-reeks is nou in ons fiksie-afdeling beskikbaar en ons het ook ʼn Bybelstudieboek, Joël & Obadja, uitgegee. Die eerste boek in die Appelkie-reeks is tans op ʼn voorvrystellingspromosie beskikbaar.”

In Lank lewe die Buiter, die tweede boek in die Buiter-reeks deur Gerrie Radlof, reken almal in die Kaap die Buiter is dood, maar skielik verskyn hy weer in sy volle glorie. Dié keer kom hy voor die genadelose wreedheid en vlymskerp vernuf van ’n bobaas skurk uit Europa, Percival Philip, te staan.

In Die Buiter en sy bende, die derde boek in die reeks, is dit nie moeilik om te raai hoekom die Buiter in die donker strate van Kaapstad gewaar word nie. Die burgers is ontevrede omdat die goewerneur die plunderende stamhoofde met geskenke wil paai. As ʼn man wat ʼn eervolle lewe lei, skaar die Buiter hom saam met die burgers en kies téén die goewerneur. Hy beland in die Kasteel se donker gat om sy getroue bediende van die pynbank te red. Of hy dit gaan regkry, bly egter ʼn raaisel.
“Ons het tans ʼn spesiale aanbieding waar jy al drie die Buiter-boeke teen R460 kan kry,” sê ds. Strauss. “Jy kan ook hierdie boeke individueel aanskaf.”

In Joël en Obadja, deur AS van Staden, word die stryd wat op aarde weens die sondeval teen die Bose gevoer word, opnuut ʼn werklikheid wanneer die profete bestudeer word. Wat ook tydens hierdie studie opvallend is, is hoe die Here met die mens bemoeienis maak.
“Ons sien ook hoe God se belofte van vergifnis en aanvaarding, selfs in tye van oordeel en tugtiging, altyd bly staan. Ons het die troos dat God ons selfs in tye van sonde en ellende nóóit uit sy Vaderhand laat val nie.”
Koop jou kopie aanlyn teen R75.

“Die eerste boek in die Appelkie-reeks sal op 25 November beskikbaar wees. Ons het tans ʼn voorvrystellingspromosie waar jy jou bestelling teen R150 kan plaas en R20 spaar.”
Appelkie die muis en sy familie stap deur die wonderwêreld van Génesis. Dit is ’n wipplankrit vol avonture met laagtepunte en hoogtepunte, maar uiteindelik sal jou mond, soos Appelkie s’n, oopval van verwondering oor wat God in die geskiedenis gedoen het.

Kyk gerus na al Lig en Duisternis se spesiale aanbiedinge vir die Feestyd. As jy nie namens iemand kan kies nie, is ʼn geskenkbewys ook ʼn handige geskenk!

Gee vanjaar die geskenk van lees.

Lees doen vir die gees wat oefening vir die liggaam doen …